
Die Vaal- en Oranjerivier se vlakke word weer dopgehou na swaar reën, en nog vloedwaarskuwings is aan Noord-Kaapse boere gestuur.
Luidens ‘n berig op News24.com is die Departement van Waterwese van plan om die sluise van vier groot damme oop te maak na swaar reën in die noorde watervlakke weer laat styg het.
Die Vaaldam is tans 99% vol, met ‘n invloei van 520 kubieke meter per sekonde (kumek). Drie sluise is geopen wat die dam se uitvloei na 400 kumek laat styg het. Na verwagting sal nog twee sluise geopen word wat die uitvloei na 60 kumek sal laat styg.
Ander damme
Die Gariepdam is tans 109% vol met ‘n uitvloei van 1200 kumek, terwyl die Vanderkloofdam 110% vol is met ‘n uitvloei van 1650 kumek. Dít lei tot ‘n vloei van 3150 kumek in die Oranjerivier. Die Bloemhofdam, wat 96% vol is, se uitvloei sal teen 16:00 Maandag (24 Januarie 2011), na 400 kumek verhoog word. Dan na 700 kumek teen 17:00, 1000 kumek teen 18:00 en 1300 kumek teen 06:00 Dinsdag (25 Januarie 2011).
Net nie hoër as 5m
Intussen sê mnr. Jors van der Westhuizen, ‘n boer van die Grootdrink-distrik, as die watervlak net nie meer as 5m styg nie, sal hulle nog ‘n vloed kan deurstaan.
“Die meeste noodwalle het gebreek en weggespoel, so as hy nou hoër opstoot het ons geen manier om hom te keer nie. Al wat jy dan kan doen, is staan en kyk! Op party plekke het vloedwalle vir tot 19m aanmekaar gebreek en is daar niks”, vertel Van der Westhuizen.
Hy sê intussen kon hulle nog nie terug in hulle oorspoelde landerye en wingerde in nie, aangesien die water eers teen Saterdag begin uitsyfer het en alles steeds papnat is. “Ons hoop nou net regtig dat ons nie spoelskade sal kry nie”.
Volgens die jongste inligting wat die Boegoeberg-waterverbruikersvereniging aan boere deurgegee het, word die volgende groot water teen Sondag (30 Januarie 2011) by Upington verwag.
24 Januarie 2011
Bron:News24.com