
Tegnologie op onbemande vaartuie (robotkopters of “drones”) is al só gevorder dat dit jou kan waarsku dat daar ’n siekte op jou saailand is selfs nog voordat jy dit met die blote oog kan sien, sê dr. Rikus Kloppers van die saadmaatskappy Pannar.
Hy was een van die sprekers op Landbouweekblad se Oplossings vir die Landbou-konferensie wat by die Vrystaatse Universiteit gehou word.
Kloppers glo dié onbemande vaartuie gaan in die toekoms ’n geweldige groot rol in die naspeuring van siektes by gewasse speel. “Jy kan nie net met ’n bakkie om jou lande ry en dan weet wat binne-in aangaan nie.”
Hy het in hul siekteweerstand-proewe al met só ’n vaartuig, toegerus met Trimble se GreenSeeker-tegnologie, gewerk. Dit behels ’n sensor wat laser-skanderings doen en die resultate dan ontleed om ’n “groen indeks”-kaart te gee van die land waaroor die sensor gevlieg is. Die indeks is ’n aanduiding van plantgesondheid op verskillende dele van die land, en dus ook van kolle met siekte-uitbrekings.
Nóg ’n nuwe tegnologie wat in die nabye toekoms ’n groot rol gaan speel, is droogtebestande mielie-kultivars, meen Kloppers.
Dié kultivars beteken nie jy gaan nou skielik mielies in die Kalahari kan plant nie, maar dit gaan byvoorbeeld boere in die Benede Oranjerivier-gebied in staat stel om sê maar 25% minder te besproei, met die gepaardgaande krag- en waterbesparings, sê hy.
Saadbehandelings is ook deesdae op die tegnologiese voorfront, meen Kloppers, omdat die waarde van mielies vandag so hoog is dat jy nie die saad in die grond kan sit sonder om dit te beskerm nie. Pannar doen heelwat werk oor polimere wat op sulke behandelde saad gesit word om te keer dat die behandeling afkom.