Sommige bees- en perdetelers kan baat vind uit die toenemende openbare belangstelling in rodeosport.
’n Gunstige verslag van ’n groep veeartse wat ’n onlangse rodeo gemonitor het, baan die weg hiervoor. Uit die verslag blyk dit dat die diere nie op ’n byeenkoms op Malmesbury mishandel is nie. Volgens die betrokke veeartse is die rodeo, ondanks die bohaai wat vooraf daaroor opgeskop is, suksesvol aangebied.
Hulle maan teen “emosionele besluite” oor die toekoms van dié sport in die land. Die verslag meld die bulle is twee dae voor die tyd en ook ná die byeenkoms ondersoek “en alles was in orde”.
Diere oordeelkundig behandel
Hulle was glo rustig, het gevreet en water gedrink, kon lê en rus en het geherkou. Daar is ook bevind dat wanneer die prikstok gebruik is om bulle in die drukgange te kry, dit oordeelkundig gedoen is.
Die bokspringbande wat gebruik is om die bulle te prikkel, maar ook te beheer, was met sagte materiaal oortrek en het los aan die diere gesit en hulle nie beseer nie.
“Ons organiseer reeds vir enkele jare byeenkomste volgens vasgestelde reëls waarin die welsyn van diere vooropgestel word. Boonop moet ruiters en beamptes ’n streng gedragskode eerbiedig,” sê mnr. Koos Dippenaar, erevoorsitter van die SA Professionele Rodeo Cowboyvereniging (SAPRCV).
• Die nasionale bulry-kampioenskapsbyeenkoms word op Saterdag 29 Oktober op Ventersdorp gehou. Van die land se voorste cowboys sal daar ook aan perdenommers met rodeoperde deelneem.
20 Oktober 2011