
'n Nuwe inisiatief om transformasie in die landbou te bevorder, word Woensdag, 17 Mei, tydens 'n Nasie in Gesprek-opname by die Nampo-Oesdag bekend gestel.
'n Werkgroep onder leiding van oud-min. Roelf Meyer, direkteur van die In Transformation Initiative (ITI), wil opvattings oor die landbousektor verander deur bewese transformasieprojekte ten toon te stel.
Sulke projekte sal gebruik word om verdere transformasie te bewerkstellig, het die Land Bank, wat ook betrokke is, in 'n verklaring gesê.
Wanopvatting
Die inisiatief wil die wanopvatting dat die landbousektor nie 'n belangrike bydraer tot die ekonomie is nie, verander, en as deel hiervan aandag aan grondhervorming gee.
Die Land Bank sê die landbou is een van die sleutelsektore wat die vermoë het om die ekonomiese ontwikkeling, transformasie en werkskepping te ontsluit wat nodig is om aandag te gee aan Suid-Afrika se ontwikkelingsuitdagings op lang termyn.