Roof is in 90% van die gevalle die motief agter plaasaanvalle, en in 2% van die gevalle is dit polities of rassisties gemotiveerd, sê die Instituut vir Rasseverhoudinge.
Luidens ’n berig op Nuus24.com sê mnr. Kerwin Lebone, ’n navorser: “In 7% van die gevalle hou dit verband met loongeskille.”
Lebone sê dié statistiek is verkry in ’n studie wat onder meer polisiedossiere van plaasaanvalle van 1991 tot 2003 bestudeer het. “Meer onlangse studies het min of meer dieselfde resultate opgelewer, maar baie mense glo steeds plaasaanvalle is ras- of polities gemotiveerd.”
In die jongste plaasaanval is die 49-jarige mnr. David Hall van Potchefstroom Maandagoggend (20 Februarie 2012) tussen sy melkstal en plaashuis doodgeskiet toe vyf mans hom en sy vrou aangeval het.
Niks is tydens die voorval uit die huis gesteel nie. Die verdagtes het die egpaar se voertuig gesteel om daarin te vlug, maar dit is later die dag in Fochville gevind.
Motief
Volgens die berig sê Hall se broer, Peter, hulle meen die uitsluitlike doel van dié aanval was om Hall te vermoor. “Ons meen hulle is aangevuur deur uitlatings deur mense soos Julius Malema (die ANC-jeugleier). Hulle wil boere van plase verjaag om (eindelik) hul grond te vat.”
Mnr. Boeta du Toit, uitvoerende hoof van Agri Noordwes, sê geen bewyse bestaan dat plaasaanvalle polities gemotiveerd of georkestreerde volksmoord is nie.
“Die motief is meestal misdaadgerig, maar onverantwoordelike politieke uitlatings en vakbonde se beskuldigings van rassisme skep ’n klimaat van wreedheid. Dit eskaleer tot verkragtings en moord. Wraakgevoelens kan ook ’n rol speel.”
Bron: Nuus24.com
22 Februarie 2012