Rooivinke rig groot skade aan in koringlande in die Bultfontein-omgewing, met strooptyd wat om die draai is.
Mnr. Herman Meiring, Vrystaat Landbou se streekverteenwoodiger, sê 16 boere word geraak, en dit is ‘n ernstige probleem.
Meiring sê derduisende vinke kom in die omgewing voor, en hulle kan tot twee ton koring daagliks opvreet. “Hulle vreet dié koring wat nog ‘n sagte deeg is, nie dié wat al ‘n harder pit gevorm het nie.”
Volgens Meiring het van die boere al die vinke probeer uitskiet, veral dié wat op die kante van landerye toesak. “Hulle vlieg egter net op en gaan vreet verder in die middel van die landerye, waar dit moeiliker is om hulle in die hande te kry.”
Voëls se gewoontes
Meiring sê beamptes van die nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het die omgewing twee weke gelede besoek. Boere moet opnames oor dié voëls se gewoontes op plase doen, waarna ‘n plan van aksie uitgevoer kan word.
“Die departement moet nou besluit of die voëls geskiet of gespuit moet word, maar baie faktore moet in ag geneem word sodat waterbronne byvoorbeeld nie besoedel word nie,” vertel Meiring.
Die boere wat geraak word, hou die voëls se daaglikse bewegings dop en hulle moet vasstel waar die voëls snags gaan slaap, sodat hulle moontlik daar geteiken kan word.
Strooptyd in dié omgewing begin rondom 15 November.
9 November 2011