Misleidende en subjektiewe inligting oor die rooivleisbedryf en die vrystelling van kweekhuisgasse is onlangs op 50/50 uitgesaai, sê die Rooivleisbedryfsforum (RMIF).
Luidens ‘n verklaring sê die forum die program wat Maandag, 14 November 2011, uitgesaai is, het die veldtog “Meat Free Mondays” en vegetariese produkte op ’n misleidende wyse bevorder.
Die forum sê die program was “blatante advertensie” vir ’n vegetariese voedselvervaardiger se produkte, sonder dat dit aan enige ander belanghebbende die kans gebied het om sy kant van die saak te stel.
“Enige program wat ’n netelige tema bespreek, moet albei kante van die spektrum se menings insluit om die kyker toe te laat om ’n ingeligte besluit te neem. Die kykers van dié program is nie daardie kans gebied nie.”
Misleidende feite
Dr. Heinz Meissner, ’n voedingskundige verbonde aan die Rooivleisprodusente-organisasie, sê eerstens is die inligting wat aandui dat die landbou 22% tot die vrystelling van kweekhuisgasse bydra, verkeerd. Dít is glo ou statistiek en dié persentasie is sedert 2006 aangepas na 18%.
Hy sê wat die stelling dat “globale verwarming deur diere die meeste is”, en dat “’n vegetariër en ’n V8-viertrekvoertuig meer omgewingsvriendelik is as ’n vleis-eter op ’n fiets”, kan bloot nie wetenskaplik bewys word weens al die afleidings wat gemaak moet word nie.
Die water-argument
Meissner sê die argument dat beeste wat in voerkrale aangehou word, meer water gebruik en kweekhuisgasse vrystel as beeste wat op weiding aangehou word, is nie korrek nie.
Beeste wat in ’n voerkraal aangehou word, word vir 100 dae aangehou voor hulle geslag word. Hulle gebruik dus water en stel gasse vry vir 100 dae.
In teenstelling daarmee word beeste wat op weiding aangehou word, vir 200 dae aangehou voor hulle geslag word. Dié beeste gebruik dus water en stel kweekhuisgasse vir 200 dae vry.
Graan vs vleis
Meissner sê die argument dat mense eerder graan as vleis moet eet, stel voor dat een voedingsbron vir ’n ander verruil kan word sonder enige implikasies.
Graan verskaf primêr energie, terwyl vleis proteïene en sekere minerale en vitamienes verskaf. Dít beteken dat iemand wat vleis vervang, meer geld aan ander vorme van proteïene, minerale en vitamiene moet bestee, en die totale koste en praktiese toepassing daarvan word nie in ag geneem nie.
Meissner sê dit is baie belangrik dat ’n program soos dié, streek- en landspesifieke statistiek bekend moet maak. Wêreldwye statistiek kan nie op elke land van toepassing gemaak word nie, aangesien omgewingsprobleme in elke land uniek is.
Landbou.com wag op terugvoer van die RIMF oor of hulle enige formele of wettige stappe teen 50/50 oorweeg.
22 November 2011