
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) verwag dat rooivleispryse teen Desember met tussen 9% en 15% gaan styg. Die plaaslike produsenteprys het op ’n jaar-to-jaar grondslag vir A-graad beesvleis met 8.1% gestyg en dit is tans R38,56/kg, BTW uitgesluit, luidens die organisasie se nuusbrief.
Jaar-op-jaar het lamsvleis met 9% gestyg en dit kos tans R63,76/kg, BTW uitgesluit. Die produsenteprys styg tradisioneel oor die feesseisoen en prysstygings effens bo inflasie word vir 2017, 2018 en 2019 voorspel.
Verhoogde vraag na bees- en skaapvleis weens bevolkings- en inkomstegroei, veral vir die opkomende middeklas, is van die redes vir die stygende pryse.
Internasionale pryse is hoog in vergelyking met Suid-Afrika s’n. “Die produsenteprys van A-graad beesvleis in Suid-Afrika is R38,56 plus BTW, die VSA-prys is R64,05, Australië R67,26 en China R82,50. Die Suid-Afrikaanse lamsvleisprodusenteprys is R63,76 plus BTW en die VSA-prys is R126,72,” lui die RPO se nuusbrief.
Gunstige internasionale pryse dryf ook groeiende vlakke van plaaslike uitvoere. Daar word tans rooivleis na 42 lande uitgevoer en die bedryf is besig met die ontwikkeling van ’n uitvoerstrategie. Groei op dié gebied sal ook lei tot ’n laer plaaslike aanbod.
Die droogte se uitwerking op kuddes is ook noemenswaardig, met 15% van vroulike teelkuddes wat uitgeslag is weens weidingstekorte. Selfs met normale reënval in die komende seisoen sal dit vier tot vyf jaar neem voor normale slagtings- en aanbodfaktore weer geld.
Die RPO voorspel dat pryse die internsaionale neiging sal volg. Afrika se bevolking sal na verwagting teen 2050 verdubbel en die voedselmark in oostelike en suidelike Afrika sal na verwagting teen 2040 verdriedubbel.
Dit dui daarop dat die vraag na bees- en skaapvleis sal aanhou groei en dat intensiewe vark- en hoenderboerdery ook vining kan uitbrei.