
Só sê die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in ’n persverklaring wat op 28 Januarie uitgereik is.
Volgens die RPO het verlede jaar se droogtes tot noodslagtings, meer slagtings van vroulike diere as gewoonlik en wydverspreide vrektes van vee onder opkomende boere gelei. Buurlande het handelsreëlings getref om dié oormaat vleis uit Suid-Afrika te bemark.
Omdat boere in hul aanteelkuddes ingeslag het en kuddebou steeds deur droogtes belemmer word, sal die vraag vanjaar waarskynlik die aanbod oortref en die produsenteprys sal styg. Die swak rand, wat tans in die omgewing van R11 teenoor die Amerikaanse dollar verhandel, sal veroorsaak dat invoere redelik duur word.
Suid-Afrika is ’n netto-invoerder van rooivleis en volgens die RPO voer ons 10% van ons beesvleis en 24% van ons skaapvleis in. Daar word elke jaar ongeveer 190 000 speenkalwers en 270 000 lewendige bokke van Namibië ingevoer.
Tog sê die RPO dat die koopkrag van die verbruiker sal bepaal wat in die mark gebeur. Omdat verbruikers ook onder druk is weens die lae plaaslike ekonomiese groeikoers, stygende brandstofpryse en die swak rand, sal die rooivleispryse nie uitermate kan verhoog nie.