’n Stelsel behoort daargestel te word om winkels wat nie laer rooivleispryse aan verbruikers deurgee nie, aan die kaak te stel.
Dit sal almal – ook produsente – baat as verbruikers weet hoe vleispryse vasgestel word, het mnr. John Dürr, voorsitter van die Wes-Kaapse RPO, naby Wellington gesê.
Dürr het op ’n geskiedkundige eerste gesamentlike jaarvergadering van die RPO en die NWKV in die provinsie gesê toe produsentepryse met byna 20% in die eerste kwartaal vanjaar gedaal het, is verbruikerspryse dikwels nie daarvolgens aangepas nie.
Die middel- en lae-inkomstegroepe het aan die kortste ent getrek. Verskeie inligtingsaksies om verbruikers op hoogte te hou van vleisprysbewegings, het nie veel reaksie by die groter betrokkenes in die kleinhandelsektor uitgelok nie. Kleiner handelaars het egter wel verlaagde vleispryse begin deurgee, sê Dürr.
Produseer wat verbruikers wil hê
Hy het gewaarsku dat rooivleisprodusente in die toekoms sal moet produseer wat verbruikers wil hê. “Ons sal ook jaloers moet waak oor die deel van die verbruikersrand wat die produsent tans nog kry, naamlik 50c tot 55c. Ons sal ook moet waak daarteen dat verbruikersweerstand opbou as verbruikerspryse nie mededingend is in vergelyking met dié van ander proteïenbronne nie.”
Hy is bly dat die prys van stoetramme die afgelope jaar met 18% gestyg het, ook oor die styging van 9% by stoetbeeste. Dit dui op ’n groeiende belangstelling om nie net kuddes uit te brei nie, maar ook om doeltreffendheid te verhoog.
Met die onlangse daling van tot 20% in skaap- en beespryse, het talle produsente weer die strategiese fout begaan deur diere terug te hou wat markgereed was.
Dit het veroorsaak dat diere óf oorvet óf te maer geword het en duur, aanvullende voeding moes kry. Dikwels wou abattoirs ook nie sekere diere, soos té swaar of té vet lammers, hê nie. “Die gulde reël by veebemarking bly steeds: As die produk markgereed is, is die mark ook reg,” het Dürr gesê.
9 Mei 2012