
Rooiwater het binne sewe weke 35 koeie op 'n Gautengse melkplaas laat vrek.
Mnr. Danie Schutte, oudminister, sê dit is 'n groot terugslag vir die nuwe gesamentlike onderneming wat hy onlangs met twee vennote begin het.
Die gesamentlike kudde het 500 tot 600 diere. Schutte se Bronberg-melkery is voorheen op 90 ha aan die buitewyke van Pretoria bedryf en was een van die min melkerye wat as organies gesertifiseer was. Die plaas is mettertyd deur ontwikkelings omring en omdat die grond te klein was vir uitbreiding, het Schutte dit onlangs verkoop.
Rooiwater in Mei
Een van sy nuwe vennote besit 'n plaas van 463 ha naby Bronkhorstspruit en boer reeds daar met Ayrshires. Schutte se Ayrshires is sedert einde April op dié plaas en hy sê probleme met rooiwater is in Mei opgemerk.
“Ons het 'n private veearts hier gehad en twee keer veeartse van die staat se Temba-kliniek. Hulle het twee keer bloed vir toetse getrek en 'n nadoodse ondersoek gedoen.” Beide Asiatiese en Afrika-rooiwater is gediagnoseer. “As rooiwater jou tref, kan 'n koei binne twee dae vrek,” sê Schutte.
Op aanbeveling van die veeartse is 'n intensiewe program teen groot koste begin. 'n Blokmiddel is dadelik aan alle volwasse diere toegedien, asook 'n opvolgdosis drie weke later. Nóg 'n dosis sal drie weke later volg en indien alles goed gaan, sal al die diere ná'n verdere drie weke geïmmuniseer word.
Laat reëns
Schutte dink die goeie reënseisoen en laat reëns, tesame daarmee dat die werklike koue nog nie gekom het nie, het veroorsaak dat die bosluise baie aktief is en het aanleiding tot die uitbraak gegee.
Rapport het op 18 Junie berig dat die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Tshwane die plaas ná bure se klagtes besoek het. Op 16 en 17 Junie het hulle sewe siek Ayrshire-koeie en 'n kalf van kant gemaak. Oor die diere wat die DBV van kant gemaak het, sê Schutte: “Dit was my eie fout, ek moes van hulle ontslae geraak het. “Danksy die stappe wat ons gedoen het, kon ons 'n klomp koeie red, maar daar was ook 'n klomp wat in 'n swak siektetoestand was,” sê hy.
DBV vind karkasse
Die DBV het ook op 40 karkasse afgekom wat waarskynlik al maande lank daar lê. Schutte sê hy gee sy volle samewerking aan die DBV en het hulle genooi om die plaas twee weke lank elke dag te besoek.
Op 19 Junie het hy aan hulle 'n verslag gegee oor al die voer wat elke dag gegee is en al die medikasie wat toegedien is.
Omdat die melkery organies bedryf word, word volledig van alles rekord gehou. Die siek koeie word afsonderlik gehou en hul melk nie aan kopers gelewer nie. Melk van gesonde koeie aan wie die blokmiddel toegedien is, mag wel gelewer word.