
Mnr. Neels de Villiers, die Vrystaatse voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê die toekenning van die nuwe nasionale diploma in veeproduksie aan 13 jong boere ingevolge ’n modulêre aanbiedingsmetode is ’n mylpaal in landbou-opleiding in Suid-Afrika.
Altesaam 11 boere van die Vrystaat, een van die Noord-Kaap en een van Noordwes het dié kwalifikasie op ’n diplomaplegtigheid van die Bloemfonteinse Batho Pele-agri-ontwikkelingsinstituut ontvang.
Dié deeltydse en praktiese kursus vir jong, werkende boere was die breinkind van die Vrystaatse RPO. Dit is ’n omvattende boerdery- en boerderybestuurskursus van 18 maande wat deur Agri-Seta erken word.
De Villiers sê dié kursus, wat nou oor die land heen aangebied gaan word, is waardevol vir veeboere en die rooivleisbedryf. Die plan is om van volgende jaar af 25 studente per geleentheid op te lei.
JP le Roux (naasregs op die foto), van Kimberley, is aangewys as die beste student in veeproduksie tydens die diplomaplegtigheid van die Bloemfonteinse Batho Pele-agri-ontwikkelingsinstituut. Me. Hetisani Ntshinga (naaslinks), van Bethlehem, het ’n merietetoekenning ontvang. Links is mnre. Ernest Beck van Batho Pele en regs Neels de Villiers van die Vrystaatse RPO.