
Die RPO in die Wes-Kaap ondersoek permanente alternatiewe vir Onderstepoort Biologiese Produkte.
Mnr. John Durr, voorsitter van die RPO in die Wes-Kaap, het aan Landbou.com gesê die dagbestuur van die RPO in die provinsie het verlede week besluit om vanaf 2015 gereelde opnames van die beskikbare entstowwe wat vir sekere inent-tydperke benodig mag word, oor die hele provinsie te doen. Die RPO se streekbestuurslede sal dié opnames doen.
Durr sê prominente verskaffers/verspreiders van veeartsenymiddels/entstowwe sal per databasis gereeld gekontak word om te voorkom dat in krisistye tekorte in sekere streke mag ontstaan.
“Met die stigting van die Wes-Kaapse Forum vir Dieregesondheid, vroeg in 2015, sal ook sterk geagiteer word om te kyk na alternatiewe verskaffers/vervaardigers van entstowwe as permanente alternatief vir Onderstepoort Biologiese Produkte. Hulle is na ons mening nie meer betroubaar oor die langtermyn nie.”
“Ons kan nie meer maar net sit en kyk hoe 'n tydbom besig is om vorm aan te neem wat ál die veebedrywe in 'n ommesientjie kan vernietig nie,” aldus Durr.
* OBP het nie sy belofte gestand gedoen dat die tekort aan enstof teen einde van November iets van die verlede sal wees nie. Dr. Jacob Modumo, OBP se sake-ontwikkelingsbeampte, het sy foon afgeskakel toe Theuns Botha hom om kommentaar daaroor genader het.