
Rooivleisprodusente is met prysverlagings van tot 16% vir hul produkte tussen Desember verlede jaar en April vanjaar getref.
Ná dié dalings nie na verbruikers deurgegee is nie, het die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) die Universiteit van die Vrystaat genader om te bepaal hoe lank dit duur om sulke dalings na die verbruikers deur te gee.
Mnr. Koos van der Ryst, eerste ondervoorsittter, sê dié opname het bepaal dat dit tussen ses weke en twee maande kan duur vir supermarkte om dié verlagings deur te gee. “Maar hoekom sien ons nou eers dié verlagings vir verbruikers?”
“Supermarkte speel nie altyd die spel nie. Ons verstaan supermarkte het onkoste, ons verstaan hulle moet ook duurder vir sommige dienste betaal, maar verbrands, hulle moet die spel speel en nie agter daai goed skuil nie,” aldus ’n moedelose Van der Ryst.
Langtermyn
Van der Ryst sê hoewel die bedryf op kort termyn bloei, lyk die mark op lang termyn goed. Volgens hom styg die vraag na vleis internasionaal drasties, wat tot die voordeel van vleisprodusente gaan wees.
Volgens Van der Ryst het produsente ’n aandeel van tussen 45% en 50% in die verbruikersrand. “Ons het die beherende deel in die rooivleisbedryf, so wat wil jy daarmee maak. Gebruik dit tot jou voordeel en lewer jou bydrae tot ’n organisasie soos die RPO.”
Die organisasie vra dat produsente hom moet nader en spesifiek aandui watter kwessies sy aandag moet kry. “Jy kan nie die kerkraad kritiseer as jy nie deel van die gemeente is nie,” sê Van der Ryst.