
Die dag toe die sukkelende wortelboere, Vito Rugani en Vincent Sequeira van Greenway Farms, doelbewus besluit het om hul arbeidsmag produktief te maak deur meganisering, was die dag wat hulle hul onderneming op die pad gesit het om Suid-Afrika se grootste wortelprodusent te raak.
Rugani het sowat 220 boere en agri-rolspelers toegespreek by Landbouweekblad se konferensie om oplossings vir die landbou te vind. Dit word vandag en môre (30 en 31 Oktober) by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein gehou.
“As jy aanhou om goedkoop arbeid te gebruik, is daar geen druk vir innovasie nie en jy sal nie gereed wees vir wat kom nie,” het Rugani gesê.
Hy streef na ergonomiese balans, eerder as ’n “verslawing aan goedkoop arbeid”. Dit beteken masjenerie versterk plaaswerkers se hande om meer produktief te raak. Dit lei tot hoër loonvlakke, maar terselfdertyd meer bekostigbare arbeidskoste.”
Sedert hulle dié filosofie volg, het hul arbeid dertig keer meer produktief geraak en werkers se bydrae tot die omset het van R33 000 tot R1 miljoen geklim.
Vito en Vincent was op die rand van bankrotskap toe hulle in 1994 besluit het om by die Australiërs te gaan kers opsteek oor die produktiewe aanwending van arbeid.
“Ons was by ’n brokkoli-boer en het besef hy doen met vier mense wat ons met veertig doen. Sy belegging was (in vandag se geld) nie meer as R150 000 nie. Hul brokkolliprys was laer as ons s’n, maar hy was winsgewend en ons nie. Dan besef jy die probleem is omdat jy nie verstaan daar is ’n balans tussen mense en masjiene wat werkers meer produktief maak en in staat stel om hulle tien keer meer te betaal as wat ons betaal nie.”