
Die impak van stygende kommoditeitspryse, onder meer brandstofpryse, het ’n groter impak op die plaaslike wynbedryf as die kansellasie van sommige bestellings weens die oorlog tussen Rusland en Oekraïne, sê me. Maryna Calow, kommunikasiebestuurder van die handelsorganisasie Wines of South Africa (Wosa).
Verlede jaar is 6,9 miljoen liter wyn na Rusland en net meer as 300 000 liter wyn na Oekraïne uitgevoer. Dit verteenwoordig minder as 2% van Suid-Afrika se totale wynuitvoer vir die jaar.
“Die groter bekommernis lê vir ons in stygende kommoditeitspryse. Na gelang van hoe die situasie oor die komende dae, weke of maande gaan ontwikkel, sal ons ’n beter idee van die impak daarvan op die plaaslike wynbedryf kan kry.”
Sy sê die situasie kan ook ’n verdere ongunstige impak hê weens die probleme met verskeping wêreldwyd wat al die afgelope twee jaar voortsleep.
Wosa is een van die belangegroepe wat gister met dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, die impak van Rusland se inval van Oekraïne op die provinsie se landbousektor bespreek het.
Albei markte lewer ’n bydrae tot inkomste wat deur uitvoer verkry word en ’n beduidende gedeelte hiervan is landbouprodukte uit die Wes-Kaap.
In 2020 is landbouprodukte van gesamentlik R4,1 miljard na Rusland en Oekraïne uitgevoer. Tuinbouprodukte, onder meer lemoene, pere, appels, suurlemoene, tafeldruiwe en wyn in houers van minder as twee liter het R3,4 miljard hiervan uitgemaak. Meer as 80% van dié produkte is in die Wes-Kaap geproduseer.
Suid-Afrika het op sy beurt graan van meer as R2,3 miljard uit Rusland en Oekraïne ingevoer. Sowat 28% van hierdie invoer was vir die Wes-Kaap bestem. Daar bestaan volgens Meyer veral kommer dat as die aanbod van koring beperk word, dit die prys van brood sal laat styg en ’n slegte impak op voedselsekerheid en armes sal hê.
Onderbrekings in verskeping, produksie en sekerheidskwessies het reeds daartoe gelei dat die prys van koring met 50% toegeneem het. Die pryse van meeste primêre landbou-insette in Suid-Afrika het volgens Meyer vergeleke met Januarie verlede jaar verdubbel. Kunsmis, brandstof en landbouchemikalieë is vanjaar duurder.
Meyer sê belanghebbendes in die Wes-Kaapse landbousektor stem saam dat logistiek, finansiële verliese en die verskeping van vrugte na ander markte tans die grootste probleme is wat die sektor in die gesig staar. Skeepvaartmaatskappye aanvaar tans nie besprekings nie en daar is opeenhopings by hawens in Rotterdam, Antwerp en Bremerhaven.
Dit duur normaalweg 23 dae om ’n vrag vrugte van Kaapstad na St. Petersburg te vervoer. As gevolg van die logistieke probleme kan dit nou tot 93 dae duur. Teen daardie tyd sal die vrugte totaal oneetbaar wees.
Meyer sê daar moet ook in ag geneem word dat dit nie maklik is om vrugte na ander markte te herlei nie aangesien markte verskillende spesifikasies en vereistes het. Terselfdertyd stuur al die ander lande in die Suidelike Halfrond ook hul vrugte na daardie lande. Dit veroorsaak ’n ooraanbod en dus laer pryse en inkomste vir Suid-Afrikaanse uitvoerders en produsente.
Volgens Meyer sal sy departement verskeie stappe doen om die Wes-Kaapse landbousektor sover as moontlik te steun deur onder meer kinkels in die provinsiale landbouwaardeketting uit die weg te ruim, markgeleenthede te identifiseer en ’n gebeurlikheidsplan gereed te hê om boere op kort en mediumtermyn te ondersteun.
Tesame met hierdie stappe sal die Wes-Kaapse regering aanhou om dienslewering by die Kaapstad-hawe te verbeter.