
Hoewel Westerse sanksies en die ineenstorting van oliepryse na die gebeure in die Oekraïne in 2014, die Russiese ekonomie ’n gevoelige knou toegedien het, is daar tekens dat dié “siek pasiënt” herstel.
Dit behoort goeie nuus vir Suid-Afrikaanse sitrus-uitvoerders te wees, het mnr. Mikhail Fateev, Russiese konsultant vir die Suider-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SASKV) tydens ’n sitrusberaad in die Port Elizabeth gesê.
Fateev het ’n passievolle pleidooi gelewer vir groter samewerking tussen die twee lande en om sekere beperkings wat nog op sitrusuitvoere van toepassing is, opgehef te kry. Met die roebel se waarde wat sedert 2014 halveer het en Russe wat reeds meer as 30% van hulle inkomste (sowat VSA$500 per maand) aan voedsel bestee, sê hy, dat inwoners genoodsaak was om minder en goedkoper kos te koop.
“My raad is om net genoeg kos (sitrus) aan die ‘pasiënt’ te voorsien as wat hy kan verteer. Daar is reeds tekens dat die ekonomie besig is om te herstel. Met 150 miljoen inwoners en geen sitrus wat in Rusland geproduseer word nie, is bly dit die wêreld se grootste invoerder van sagteskil-sitrus, gevolg deur lemoene en pomelo’s en die derde grootste invoerder van suurlemoene.” Die verbruik per kapita van sitrus in Rusland beloop meer as 11 kg/jaar en verteenwoordig sowat 15,5% van alle vrugteverbruik in dié land.
Hy het gesê Suid-Afrika is naas Egipte en Turkye die derde grootste verskaffer van lemoene aan Rusland en is baie stewig in die mark gevestig. “Ons het egter nie net julle vrugte nodig nie, maar ook julle lojaliteit en ondersteuning om die moeilike omstandighede te bowe te kom.”