
Die Russiese regering het sy jaarlange verbod op die invoer van landbouprodukte van lande wat sanksies ingestel het weens Moskou se betrokkenheid in die Oekra?ne, ietwat aangepas.
Volgens mnr. Nikolai Fyodorov, Rusland se landbouminister, sal die land miljarde moet bestee om voedselsekerheid vir die komende jare te verseker ná dié verbod.
Daarom wil die regering juis die verbod op produkte, soos saailinge, laktosevrye melkprodukte, suikermielies, ertjie- en uiesaad, kalwers, salm en voedselaanvullings, lig om sodoende die land se landbou te bevorder en prysstygings te verhoed, berig die Moscow Times.
Met die inkorting van die lys wil Rusland nie sy eie produsente benadeel nie, maar daar is byvoorbeeld nie genoeg saailinge in Rusland nie en hy sal dit dus van elders moet verkry. Vir landboubelangegroepe dui dié stap dat Rusland tog die belange van sy burgers op die hart dra.
Nederland se landbou is verheug dat sommige produkte van die sankielys verwyder is, maar waak teen te veel entoesiasme. Volgens Statistiek Nederland beloop dié land se verlies weens die verbod op sowat €300 miljoen (R4,2 miljard).
Vóór die sanksies het Europese uitvoer na Rusland €120 miljard (R1,6 biljoen) per jaar beloop.
Rusland was ook onder die top drie markte vir Amerikaanse hoender met VSA$303 miljoen (R3,2 miljard) se hoenders verlede jaar daarheen uitgevoer is. Ander groot verloorders is Nederlandse kaas, Noorweegse salm en vrugte uit Spanje. Pole is ook die grootste produsent van appels in Europa en die grootste verskaffer van appels aan Rusland. Onder normale toestande word sowat 677 000 ton appels na Rusland uitgevoer. Dié uitvoerders moes ander markte soek.
Bron: The Moscow Times