Suid-Afrika kan eersdaags weer ruwol (onverwerkte wol) na China uitvoer nadat Suid-Afrikaanse en Chinese owerhede ’n ooreenkoms bereik het oor die uitreik van gesondheidsertifikate met betrekking tot slenkdalkoors.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het pas aangekondig dat die Chinese kwarantynowerhede ’n nuwe gesondheidsertifikaat, met bewoording wat die departement voorgestel het, vir die uitvoer van ruwol na dié land goedgekeur het.
Nuwe sertifikate
Ingevolge die ooreenkoms sal alle wol wat geskeer is drie maande ná die laaste aangemelde geval van slenkdalkoors in ’n munisipale gebied in aanmerking kom vir uitvoer na China. Die Chinese kwarantynowerhede het ook aangedui dat hulle die nuwe sertifikate van 15 September af wil gebruik.
Wol wat geskeer word terwyl daar nog besmettings met die siekte in ’n munisipale gebied voorkom, sal nie in aanmerking kom nie. ’n Provinsiale staatsveearts kan egter ’n vrywaringsertifikaat vir ’n plaas uitreik wat sertifiseer dat daar in die drie maande voor die skeerdatum geen geval van slenkdalkoors op die plaas aangemeld is nie.
Só ’n sertifikaat moet die plaas duidelik identifiseer, die produsentenommer, die aantal bale in die skeersel en die kontakbesonderhede van die veearts bevat.
Hoewel wetenskaplike bewyse bestaan dat slenkdalkoors nie deur wol versprei word nie, het die Chinese kwarantynowerhede ná die uitbreking van die siekte in Februarie 2010 daarop aangedring dat ’n staatsveearts elke besending onverwerkte wol wat vir China bestem was, sertifiseer as synde dat dit uit ’n gebied kom wat vry van die siekte is.
Gesondheidsertifikaat vir slenkdalkoors
China is die enigste land wat op ’n gesondheidsertifikaat vir slenkdalkoors aandring ondanks die feit dat hy ’n ondertekenaar is van die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) se kode van 2009 wat bepaal dat slenkdalkoors nie deur wol, huide of velle versprei word nie en dus nie meer op gesondheidsertifikate aangedui hoef te word nie.
Uitvoerprobleme het ontstaan toe die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in Augustus 2010, net voor die aanvang van die 2010/’11-verkoopseisoen, aangekondig het dat dit onmoontlik was om voort te gaan om wol te sertifiseer weens die wydverspreide voorkoms van die siekte.
Dit het die uitvoer van ruwol na China ernstig beperk. Verwerkte wol kon egter nog daarheen verskeep word. China, wat hoofsaaklik onverwerkte wol invoer, was voor die uitbreking van slenkdalkoors die grootste invoerder van Suid-Afrikaanse wol.
Dié land het die 2009/’10-seisoen onverwerkte wol ter waarde van R933 miljoen ingevoer.
7 September 2011