Met talle boere wat droogteskade die afgelope seisoen gelei het, het ‘n paar nou ook onder ryp deurgeloop, sê Vrystaat Landbou (VL).
Mnr. Henk Vermeulen, hoof-uitvoerende beampte, sê boere in die Bloemfontein-distrik en in die Suid- en Oos-Vrystaat het reeds ryp gehad.
“Nog geen swaar ryp is aangemeld nie, maar daar is van die boere wat sê hulle gesaaides gaan dit nie maak nie. Ander sê weer hulle sal hulle gesaaides kan deurtrek,” vertel Vermeulen.
Weiding en koring
Veeboere in die provinsie is ook bekommerd oor weiding en die invloed van die koue wat reeds voorkom op die laaste groeityd. In sommige dele het reën die afgelope twee weke geval, en boere het weer hoop gekry dat weiding vir nog ‘n paar weke lank goed kon groei voor die winter die land in sy volle greep het.
“Dan sê boere wat van plan is om koring in die Oos-Vrystaat te plant, hulle is baie bekommerd oor die stand van grondvog in dié stadium,” sê Vermeulen. Volgens boere het die droogtetoestande ‘n groot invloed op grondvog gehad. Grondvog was aan die begin van die vorige koringseisoen op ‘n goeie vlak ná die milde reën wat aan die begin van verlede jaar voorgekom het.
Ryp kom plek-plek voor
Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, sê net soos wat die geval met reën in die afgelope seisoen was, het die ryp plek-plek voorgekom. Hy sê hulle het ook al klagtes uit die distrikte Bothaville en Welkom ontvang.
“En dié ryp het natuurlik die mielies wat nie deur die droogte geraak is nie, die hardste getref.” Van den Berg sê hy twyfel of die skade wat tans aangemeld word, ‘n groot invloed op die grootte van die oes sal hê. “Die mielies is fisiologies reeds ver gevorder, so ons verwag nie groot skade nie.”
Die ryp het ook sojaboon- en sonneblomoeste getref, maar minimale skade word verwag.
19 April 2012