‘n Groep van 12 boere onder leiding van die TLU SA het met ‘n verkennende besoek oor landbou-geleenthede in die ou Sowjetunie-republiek, Georgië, begin.
Die besoek volg na ‘n versoek van die Georgiese regering aan Suid-Afrikaanse boere om die landbou in dié land te help verbeter.
Volgens Georgië se minister belas met diaspora, mnr. Mirza Davitaia, wat Suid-Afrika onlangs besoek het, het die landbou in sy land ten tye van die kommunistiese oorheersing ten gronde gegaan. Georgië is ‘n klein landjie, wat begrens word deur onder meer Rusland, die Swartsee en Turkye. Die land het net meer as 4 miljoen inwoners maar spog met 26 000 riviere. Daar is glo minder as 20 groot boerderye in die land en sowat 400 kleinboere.
Die eerste dag van die afvaardiging se besoek het ontmoetings met die ministeries van justisie en binnelandse aangeleenthede behels. In Georgië is die ministerie van justisie onder meer verantwoordelik vir wetgewing, wetsadimistrasie, eiendomsregadministrasie, immigrasie en die registrasie van sake-ondernemings.
Mnr. Giorgi Vashadze, adjunk-minister van justisie, het aangetoon hoe alle stelsels in die land aangepas is om rompslomp uit te skakel en dienste aan die publiek te vergemaklik. Deur ‘n "een-stop-diens" in te stel is dit moontlik om binne ‘n dag ‘n maatskappy te registreer, binne vier dae ‘n eiendom te registreer en binne vyf dae vir iemand ‘n verblyfpermit te reël.
By die ministerie vir binnelandse aangeleenthede, wat vir die polisie en binnelandse wet en orde verantwoordelik is, het die afvaardiging gehoor dat daar bykans geen halsmisdae in die land plaasvind nie.
Mnr. Vano Mesabishvili, minister van binnelandse aangeleenthede, het gesê hy weet nie van ‘n moord die afgelope vier jaar wat nie aan huishoudelike twiste of ander maatskaplike oorsake toegeskryf kan word nie.
Die afvaardiging besoek vandag onder meer die ministeries van landbou en finasies.
1 Oktober 2010