
Die laaste 20 vragmotors, met meer as 700 ton mieliemeel, sal op 15 Januarie uit Nigel, Gauteng, na Maseru vertrek. Dié voedselhulp is deel van die Verenigde Nasies se Wêreld-voedselorganisasie (WFP) en die plaaslike Regering se 2013-projek om die voedselkrisis wat in 2012 in Lesotho ontstaan het, te bestry.
Die projek het broodnodige hulp aan sowat 263 000 kwesbare vroue en kinders gebied en die laaste vrag is genoeg om 27 700 kinders vir die hele jaar van hul daaglikse skool-ete te verskaf.
Tot nou het die WFP sowat R21 miljoen bestee en 40% van die graan wat aan Lesotho verskaf is, is van Suid-Afrikaanse kleinboere aangekoop. Die organisasie het verlede jaar 114 000 ton voedsel van lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap aangekoop.