
Suid-Afrika se groep van 24 nuwe pionierboere in die Republiek van die Kongo begin waarskynlik hierdie naweek om hul eerste mielies te plant.
Mnr. André Botha, voorsitter van Agri Kongo, wat pas van ’n besoek aan die boere teruggekeer het, sê hulle werk nou dag en nag om die landerye voor te berei. Daarby skep hulle infrastruktuur om werkers op te lei.
“As alles goed gaan sal hulle môre (Saterdag) begin om mielies te plant. Die mikpunt is dan om sowat 100 ha per dag te plant. Ná die mielies kom sojabone, rys en suikerbone aan die beurt.”
Die groep het in Desember hul tog na die Kongo (Brazzaville) per pad aangepak in ’n konvooi vragmotors, werktuie en toerusting. Vroeër vandeesmaand het hulle teen 80 ha per dag begin om landerye van sowat 2 000 ha voor te berei. Die land se regering het sowat 80 000 ha aan Suid-Afrikaanse boere in die Niari-vallei, sowat 200 km van die hawestad Pointe Noir af, toegeken.
Oes teen einde Julie verwag
Botha sê die groep hoop om teen einde Julie hulle eerste af te haal. “As boere in Suid-Afrika dit kan regkry om só as ’n groep saam te werk soos wat hierdie boere dit doen, sal ons baie minder probleme in ons eie land hê,” sê hy.
“Die omstandighede waaronder hulle daar werk, is idillies. Die plaaslike inwoners beskou hulle as helde en die regering, op nasionale sowel as plaaslike vlak, doen alles in hulle vermoë om die boere by te staan.”
Hy sê plaaslike bewoners besef die waarde van ’n werk en ’n besteebare inkomste en is dankbaar vir die nuwe boere se teenwoordigheid. “Waar die bakkery in die nabygeleë dorpie, Malolo, in die verlede elke tweede dag vyf brode gebak het, bak hy nou daagliks 205 brode wat op die plase afgelewer word.”
Kyk hier na foto's van die boere se voorbereidings.
27 Januarie 2012