
Dit is “halftyd” vir die landbou in Suid-Afrika. In die eerste helfte – die afgelope dekade – het die landbou politieke teenstand, beperkte waterhulpbronne en slegte weer ervaar.
Daarmee het ’n verbrokkelende en erg ongelyke speelveld gegeld, asook ’n voortdurend veranderende stel reëls. “Dan word ‘uitsonderlik’ niks minder nie as ‘wonderbaarlik’,” het mnr. Cornie Swart, voorsitter van Agri Wes-Kaap op Goudini gesê.
Hy het op die kongres van die organisasie gesê bewyse van die wonderwerk is te vind op elke winkelrak in Suid-Afrika, naamlik goeie (én vars) produkte teen bekostigbare pryse. Die tweede helfte gaan volgens hom egter heeltemal anders wees. Armoede, hongersnood en werkloosheid is nou die groot werklikhede.
Die reëls van die spel verskil van die eerste helfte. Nie net is die opposisie nou anders nie, maar ook die toeskouers. “Die toeskouers keur dinge af waarvoor hulle voorheen hande geklap het en die opposisie word nou gesteun,” het Swart gewaarsku.
Tyd om vorentoe te kyk
Dit is nie nou die tyd om terug te kyk en te meen die werk is afgehandel en die telbord bewys dit nie. Dit help ook nie om te kla nie. Nou moet aanbeweeg word van “sukses na ware betekenis”. Dit beteken denkskuiwe om anders na die wêreld te kyk. “In die tweede helfte word ons deur ’n voorry gesteun wat sterk genoeg is om sy man te staan. Dié helfte gaan gepaard met voedselsekerheid-risiko’s, waterskaarsheid en swak infrastruktuur.
Voeg daarby vyf ou teenstanders, naamlik armoede, werkloosheid, gebrek aan behuising en dienslewering, asook ’n swak ekonomiese groeikoers, en die tweede helfte lyk na ’n totale ander spel,” het hy gesê. Swart meen die sleutel tot ’n suksesvolle tweede helfte is nie net ’n verandering van taak of fokus nie.
Dit verg ’n verandering van siening, ’n verandering in die manier waarop na probleme gekyk word en veral die etiese optredes wat geopenbaar word. Dit is duidelik dat die landbou ’n kenmerkende bydrae lewer op talle terreine. ’n Studie deur die Wêreldbank wys dit duidelik dat in China, byvoorbeeld, die groeipotensiaal wat uit die landbou stem, 3,5 keer doeltreffender is om armoede te verminder as in enige ander sektor.
Daarom is aspekte soos grondhervorming wat nie afgehandel is nie, arbeidswetgewing wat die landbou versmoor en politici wat die landbou as speelbal gebruik, ’n groot frustrasie en bekommernis.