
Dr. Klaus Eckstein, die hoof van Bayer CropScience in Suider-Afrika, het sy bewondering vir die kundigheid van Suid-Afrikaanse boere uitgespreek. Hy het op die toekenningsplegtigheid in Bloemfontein gesê: “Gegewe die klimaatsbeperkinge en benutting van kennis en tegnologie om die landbou as ’n besigheid in Suider-Afrika te laat slaag, dwing respek af. Dit gaan ook oor jare se samewerking waarvolgens die voordeel van navorsing op ’n plaaslike vlak na ’n praktiese toepassing op sakevlak deurgevoer word.”
Eckstein het ook die vertroue uitgespreek dat vennootskappe in die landbou uitgebou word om die volhoubaarheid van die bedryf oor die medium termyn kan verseker.
Mnr. JP van den Berg van Tosca in die Noordwes-provinsie as die Moerkwekersforum se Moerkweker van die Jaar aangewys. Hy is vanjaar vir drie jaar in die bedryf gevestig.
As deel van sy prys kan hy ’n wêreld-aartappelkongres in 2015 in China bywoon. Van den Berg het in die 2010/’11-seisoen met moerproduksie begin vir die land se grootste verskaffingsmaatskappy van saadaartappels, die Wes-Vrystaatse Aartappelmoerkwekers op Christiana.
Hy het ook ’n sorteereenheid aangeskaf. In die daaropvolgende jaar het hy 38 kultivars op twee spilpunte wat 35 ha beslaan, geplant.
Van den Berg skryf sy sukses toe aan die feit dat sy produksiegebied betreklik virusvry is, en dat hy met geesdrif bereid is om by kundiges van die bedryf te leer. Sy buurman wat vyf kilometer verder boer, mnr. Frans Engelbrecht, was ook 'n finalis. Die ander finalis was mnr. Jakkie Mellet, van Potato Seed Production by Lydenburg in Mpumalanga.