
’n Multimiljoenrand-uitvoerprojek van Dorperskape na Rusland is ’n sterk moontlikheid ná ’n besoek van ’n afvaardiging van die Suid-Afrikaanse Dorperskaaptelersgenootskap aan die land.
Mnr. Dries Wiese, die genootskap se voorsitter, het ná sy terugkeer bevestig dat ’n vaste leweringsooreenkoms met ’n Russiese magnaat nog nie aangegaan is nie, maar sy raad sal dit op ’n buitengewone vergadering oorweeg.
Dit volg op verskeie uitvoerinisiatiewe wat die genootskap die afgelope jaar onder meer met Chinese telers probeer beding. Die uitvoer van lewende hawe, semen en embrios word tans nog aan bande gelê deur ontbrekende buitelandse uitvoerprotokolle.
Die onderhandelings met ’n Russiese maatskappy, Eurodon, het in Mei vanjaar gevorder ná ’n besoek aan Suid-Afrika van die magnaat mnr. Vadim Vaneev.
Eurodon is in 2003 gestig en is vandag die leier in Rusland ten opsigte van die produksie en verwerking van kalkoen- en eendvleis in die distrik Octyabrskiy van die streek Rostov. Volgens Wiese was die besoek aan ’n wêreldklasondernemer ’n “ongelooflike ervaring”.
“Die uitvoer van Dorpers kan in 2017 begin nadat die Dorperraad die Russiese bestelling van 300 000 skape bekragtig het,” sê Wiese. Volgens beplanning kan die plaaslike Dorperbedryf sowat 10 000 kuddediere maandeliks na Rusland uitvoer.
Eurodon beplan intussen die vestiging van ’n reproduksiesentrum vir skape vir die teel van sy eie genetika. Die maatskappy oorweeg die bykomende bestelling van 15 000 ooie en 200 tipe 5ramme van Dorper en Witdorperstoetgehalte.
Benewens Wiese en mnr. Rikus van der Merwe, Dorperondervoorsitter, het die afvaardiging na Rusland ander kundiges, soos ’n voedingskundige en uitvoeragent, ingesluit.