
Vir die 2022-’23-begroting het mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, meer gekry as wat hy verwag het. Hy kon toe die volle spektrum van die ekonomie tevrede hou. ’n Grafiek van die Suid-Afrikaanse begroting lyk meer soos ’n Eerstewêreld-land se begroting.
Die ekonoom dr. Roelof Botha het op die Graanhanteringsorganisasie van Suid-Afrika (Gosa) se simposium op Mosselbaai gesê dit is ’n pluimpie vir die departement van finansies dat die helfte van die Suid-Afrikaanse bevolking staatstoelaes kan kry. “As die mense nie die bietjie geld kry om kos te koop nie, gaan die land baie meer probleme ervaar.”
Die hoogtepunte van die begroting wys Suid-Afrika beweeg weg van ’n situasie van géén sinvolle ekonomiese beleid na ’n beleid wat markgerig op deregulering gemik is. Van die uitstaande kenmerke van die beleid is ’n verlaging van die koers vir maatskappybelasting, ’n verbintenis om op te tree oor aanbevelings van die Zondo-kommissie en die versnelling van strukturele ekonomiese hervorming.
Geduld met herstel nodig
“Ons het nou ’n president wat kan insien wat verkeerd is. Hy moet ’n manier vind om onbevoegde staatsdepartemente te systap, maar dis nie moontlik om tien jaar se aftakeling vinnig te herstel nie. Daarom moet ons baie geduldig wees.
“Suid-Afrika het ernstige ekonomiese probleme wat ontstaan het of vererger is deur die rampspoedige tyd van staatskaping, korrupsie en diefstal onder oudpresident Jacob Zuma en sy bende.”
Infrastruktuur soos paaie, hawens, energie en water het verval, werkloosheid is baie hoog en ongelykheid in inkomste is hoog. Daarby het Suid-Afrika ook te kampe met goedkoop, gesubsidieerde invoerprodukte uit China en ’n stadige pas van hervorming in die ekonomiese beleid.
Van die ekonomiese ellende wat die Zuma-tydperk meegebring het, is PetroSA se verlies van R14,5 miljard in 2015, ’n verlies van R5,7 miljard by die SAL, 3 600 staatsdienswerkers wat aan korrupsie skuldig bevind is, en roekelose kabinetskuiwe. “Die ANC erken dat hy vernietig kan word deur korrupsie en bedrog.”
Met die regte beleid kan egter baie meer in Suid-Afrika gedoen word. Suid-Afrika is nie ’n mislukte staat soos wat gesê word nie. Die land beweeg in die rigting van ’n goeie staat. ’n Land soos Venezuela het ’n mislukte staat geword weens nasionalisering.
Hy het gesê Ramaphosa het in die staatsrede gesê die private sektor moet die ekonomie red. Daarom verwag hy dat baie in die volgende jaar of twee bestee gaan word aan samewerking tussen die openbare sektor en die staat. Die private sektor het redelik goed herstel ná die rampspoedige maatreëls van die inperkingstyd.
Langdurige groei
Botha het gesê hy verwag dat Suid-Afrika op die randjie van langdurige groei staan. “Die landbou presteer baie goed. Uitvoer is so goed dat alle vorige uitvoerrekords verwoes is. Verskeie Afrikaleiers het al vir Ramaphosa gesê hy moet die boere oppas, anders gaan Afrika swaarkry. Daar is groot vertroue in die landbou.
“Kleinhandelverkope het baie gestyg en rekordgroei word in die groothandelsektor beleef. Suid-Afrika se per capita-inkomste het baie gestyg. Die ekonomie beweeg in die regte rigting. Daar bestaan geen rede vir enigeen in Suid-Afrika om plekke aan die brand te steek en verwoes nie. Sowat 36 miljoen mense kry toelaes.
“Die supersiklus se opswaaifase gaan nie gou ophou nie. Wêreldwyd gaan miljoene mense middelklas word, wat beteken dat die koopkrag gaan groei. Met die regte beleid en ’n bietjie geduld om die president ’n kans te gee, sal dit ál beter gaan met Suid-Afrika. Die ekonomie gaan vanjaar met 4% groei en volgende jaar weer,” het hy gesê.