
Suid-Afrika is gekies om as gasheer op te tree deur die Pruimedantevereniging (IPA) vir die herdenking van sy twintigste bestaansjaar tydens sy internasionale kongres in Kaapstad.
Tydens die kongres, wat vanaf 25 tot 27 Oktober plaasvind, sal spesiale aandag aan die geskiedenis van die IPA gegee word sowel as produksie en bemarking van pruimedante oor die wêreld.
Navorsing deur lede van die IPA het reeds bevestig dat pruimedante hoog aan antioksidante is en ander bestandele wat groot gesondheidsvoordele inhou. Navorsing in Amerika en Frankryk het getoon dat pruimedante ‘n groot rol kan speel in die voorkoming van verskillende kankers, hartvatsiektes en ook die bevordering van beengesondheid.
Die lede van die IPA sal ook die uitslae van hulle gesamentlike generiese promosieprogram in Indië ontleed en besluite daaroor neem. Mnr. Chris Krone, voorsitter van die IPA, het verduidelik dat Indië spesifiek vir hierdie promosieprogram gekies is vanweë sy reuse-bevolking waarvan ‘n baie groot gedeelte vegetaries is.
Supermarkte, soos in die hoogs ontwikkelde lande, begin nou posvat in Indië en dus word ‘n nuwe styl van kosaankope ontwikkel wat ‘n omvattende promosie in die winkels saam met tydskrif-artikels en koerant advertensies moontlik maak.
Prof. David Hughes van die Imperial College in Londen, ‘n kundige op verbruikersgedrag en kooptendense, sal as genooide spreker optree en aanbevelings maak wat ook in die Indiese program toegepas kan word.
Die afgevaardigdes sal na die kongres ook verwerkingsfabrieke en die landelike produksiegebiede besoek waar pruimedante in Suid-Afrika verbou word. Verskeie groepe gaan ook ander dele van die land sowel as wildparke besoek, het Krone gesê.
18 Oktober 2010