
Granate word in Suid-Afrika op sowat 1 000 ha verbou en weerstoestande sal na verwagting dié seisoen se oestyd verleng, sê me. Elrita Venter van Freshness First. Produksie behoort nie af te neem nie, voeg sy by.
Nuwe hektare word deurlopend aangeplant en Venter sê dat produksie oor die volgende paar jaar meer gaan toeneem. “Ons fokus sterk daarop om vrugte van hoër gehalte in die mark in te stuur,” sê sy op Freshplaza.com.
“Europa bly ons grootste uitvoermark vir granate. Die rand is wisselvallig en die euro gaan ook op en af. Ons sal net moet wag en sien wat die situasie in Februarie is wanneer ons oes. Dis nie maklik om te voorspel nie aangesien baie intussen kan gebeur. Die mark is positief, ons is steeds besig om ons reputasie te bou en vraag neem toe.”
Freshness First verpak sy eie granate vir uitvoer en sê uitvoere na die Midde-Ooste neem toe. “Ek dink die Midde-Oosterse mark is redelik gunstig en is beslis ’n goeie opsie. Suid-Afrikaanse granate word meer gewild en die Midde-Ooste word vir ons meer belangrik,” sê Venter.
Waterbeperkings in die Wes-Kaap raak granaatproduksie wel, aangesien automatiese sproeierstelsels nie toegelaat word.
Bron: