
Luidens ‘n verklaring sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, verskeie afgevaardigdes van landbou-organisasie en boere uit Afrika lande het sy organisasie se siening oor volhoubare grondhervorming gesteun. Dié siening is tydens ‘n vergadering van die Wêreld Boere-organisasie (WFO) in Rome gedeel.
Möller het aangedui dat aspekte soos produksiebeplanning, die kollektiewe verkryging van produksiemiddele, die beskikbaarstelling van toerusting en bemarking van dié items is wat in ‘n model vir grondhervorming vervat behoort te word. “Dit is nie bloot net ‘n mentorskap-verhouding nie, maar in wese ‘n sake-verhouding.”
Doelwit om grootskaalse boere te word
Mnr. Nduati Kariuki, verteenwoordiger vir die nasionale federasie van landbouprodusente in Kenia het in reaksie op Möller se toespraak aangedui dat die kontinent se regerings en betrokke instansies moet besef dat boere in Afrika graag suksesvolle grootskaalse kommersiële produsente wil word.
"Die fokus moet dus verskuif van die handhawing van 'n bedeling van kleinskaalse produsente tot bemagtiging van boere om doeltreffende deelnemers in die kommersiële waardeketting te word,” aldus Kariuki.
Möller sê dit is duidelik dat die vaardighede van ‘n groot aantal gevestigde kommersiële boere ‘n bate vir Suid-Afrika is, en dus ook vir die landbou in Afrika kan wees.