Duisende tonne kos en landboumiddels gaan na lande in die Wes-Sahara gestuur word as deel van ’n internasionale noodplan, sê die Regering.
Luidens ’n berig op Nuus24.com beskryf die Verenigde Nasies (VN) die droogte in die Sahel-gebied as “katastrofies”. Die gebied wat geraak word, strek oor Senegal, Mauritanië, Burkina Faso, Niger, Mali en Tsjad.
Me. Maite Nkoana-Mashabane, Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, het aangekondig dat Suid-Afrika 103 500 ton graan en verrykte kos vir 22 000 swanger vroue en babas sal stuur. ’n Verdere 11 000 ton veevoer, 877 ton kunsmis, 5 000 liter insekdoders en 9 miljoen dosisse entstof teen veesiektes sal ook beskikbaar gemaak word.
Mali en Niger
Nkoana-Mashabane het Woensdag (21 Maart 2012) bekend gemaak dat Niger en Mali die eerste ontvangers van Suid-Afrikaanse hulpmiddele sal wees.
Altesaam 80 000 ton graankos, ’n onbepaalde hoeveelheid verrykte kos en 14 500 ton veevoer sal na Mali gestuur word. Die aard en omvang van hulp aan Tsjad en Mauritanië word met die twee lande bespreek.
Geldelike hulp sal ook aan die lande gegee word, maar die minister het nie gesê wat dié bedrag sal wees nie.
Volgens statistieke van Oxfam, die Britse hulporganisasie, word meer as 13 miljoen mense in die Sahel-gebied deur die krisis geraak. Meer as 15% van hulle ly reeds aan die gevolge van wanvoeding.
Bron: Nuus24.com
22 Maart 2012