
Dit is en sal moeilik bly om oor voedselsekerheid en die belangrikheid van groot kommersiële boerderye te onderhandel as die land jaar ná jaar ’n surplus produseer.
Dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, sê hoewel ’n droogte vir boere baie slegte nuus sal wees, sal dit moontlik die belangrikheid van kommersiële boerdery illustreer.
Dié stelling het gevolg op ’n vraag oor hoekom dit voorkom asof die staat nie die belangrikheid van kommersiële landbou raaksien of erken nie. Dié vraag is gestel tydens die FW de Klerk-stigting se konferensie oor die land se beleidsrigting wat in Johannesburg gehou is.
Blanke mans
De Jager sê nog ’n rede hoekom die staat moontlik blind is vir die kwessie van die land se voedselsekerheid en die rol van die landbou, is dalk omdat die meeste kommersiële boere in die land blanke mans is.
“Wit mans is tans verantwoordelik vir meer as 90% van die voedsel wat in Suid-Afrika geproduseer word.” De Jager sê die staat se grootste fokus val op huishoudelike voedselsekerheid, maar vir voedselsekerheid op ’n breër vlak, is die kommersiële landbou nodig.
Intussen is die landboubedryf bekommerd oor die invloed wat ’n verwagte droogte wat vir volgende jaar voorspel word, op produksie sal hê. De Jager sê voorspellings is dat Suider-Afrika ’n tekort van tussen 7,5 miljoen tot 8 miljoen ton graan kan beleef.