Suid-Afrika kan deel wees van die toekoms van die “goue hoofweg” vir die vervoer van landbouprodukte tussen Asië en Suid-Amerika, meen prof. Johan du Plessis van Logistics International.
“Suid-Afrika moet dus sorg dat ons vervoer-infrastruktuur aan die uitdagings voldoen en ons moet ook na moontlikhede in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG),” verduidelik hy.
Vervoer belangrik in die toekoms
Volgens Du Plessis gaan sowat 80% van produkte wat wêreldwyd geproduseer word buite die lande waar dit geproduseer is, gebruik word. “Die land met die beste voorsieningsnetwerke gaan dan dus die wenners wees.”
Die twee grootste mededingers van die volgende eeu gaan China en Indië wees, meen Du Plessis. “Teen 2020 gaan Asië se bevolking 8 miljard mense wees, en daar sal meer middelklasverbruikers as in ontwikkelde lande wees,” vertel hy.
Leemtes in SA mark
Intussen meen dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die Landboubesigheidskamer (LBK), Suid-Afrika moet die leemtes in die plaaslike mark aanspreek sodat die land selfvoorsienend kan wees.
Hy sê hoewel die land baie produkte het wat uitgevoer word, is daar stapelvoedsels wat steeds ingevoer word. “Die invoer van rys het tussen 2007 en 2009 van R2 130 miljoen na R3 868 miljoen gestyg. Daaraan kan ons nie veel doen nie. Tweedens het die invoer van koring van R1 844 miljoen in 2007 na R2 377 miljoen in 2009 gestyg. Daaraan kan die plaaslike mark iets doen.”
Volgens Purchase het Suid-Afrika ‘n hoogs gediversifiseerde en mededingende landbouvoedselbedryf, en moet meer krediet aan die bedryf gegee word vir die produksie van hoë-gehalte, goedkoop en veilige voedsel.
Beide Du Plessis en Purchase was sprekers by die tiende AMT Landbouvooruitskouingskonferensie op 21 en 22 September in Pretoria.
23 September 2010