
Ekonomieë van skaal en doeltreffendheid in die voedselketting gaan nie al die landbou-ondernemings se probleme oplos nie. Produktiwiteit en inligtingsbestuur is ook noodsaaklik, sê dr. John Purchase, hoof uitvoerende beampte van die agri-sakekamer Agbiz.
Hy het by ’n besprekingsessie van Standard Bank se afdeling vir landbousake gesê dit is baie belangrik om ál die inligting wat beskikbaar is, doeltreffend te kan gebruik. Volgens hom is kleinhandelaars vandag “die reuse in die waardeketting, of ons daarvan hou of nie. Hulle is magtig, want hulle besit inligting oor verbruikers.”
Moet meer doen om markte te ontwikkel
Suid-Afrika se uitvoerpatroon is drasties aan die verander. Uitvoere na die Europese Unie (EU) daal die laaste paar jaar, maar Suid-Afrika is besig om ander nuwe markte te ontwikkel, hoewel dit volgens Purchase nog nie goed genoeg nie.
“Ons sien baie geleenthede in Afrika en Asië en dit is waar, ons meer moet doen om ons markte te ontwikkel,” sê Purchase. Suid-Afrika het vroeër ’n gunstige handelsbalans met die EU gehad, maar dit het verander en Purchase sê die verwagting is dat die RSA ’n netto-invoerder van kos uit die EU gaan word.
Intussen verander die samestelling van landbou-ondernemings in Suid-Afrika en korporatiewe boerdery kom al hoe meer voor. Uitsprake deur die Regering dat grondbesit beperk gaan word, skep egter onsekerheid vir sulke soort ondernemings.