
Om historiese redes is die versugting na bestaansboerdery in Suid-Afrika vanuit 'n politieke oogpunt verstaanbaar, maar sonder die kommersiële landbou sal daar nie voedselsekerheid in die land kan wees nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.
Dr. Mulder het Dinsdag, 28 Oktober, in 'n debat rondom voedselsekerheid in die Parlement gesê 'n bekende leier het onlangs opgemerk dat die strategiese bestanddele om 'n revolusie in Suid-Afrika te vermy 'n doeltreffende weermag, polisie- en intelligensiediens is.
“Ek stem nie saam nie. Dit is veel eerder water, energie en die landbou. Neem hierdie drie elemente weg, en daar sal vir seker 'n opstand wees,” het Mulder gesê.
Met verwysing na die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) het Mulder gesê ekonomiese welvaart loop hand-aan-hand met die produksie en beskikbaarheid van voedsel. Al is daar produkte beskikbaar, moet mense steeds geld hê om dit te kan koop.
“Die gemiddelde persoon wil nie meer boer net om aan die lewe te bly nie. Mense verkies om werk te gaan soek in stede met hul moderne ekonomieë. In Suid-Afrika is bestaansboere noodsaaklik omdat dit politieke stabiliteit bewerkstellig. Dit is egter belangrik dat die mikpunt moet wees om die mense te lei tot kommersiële boerdery.
“As adjunkminister van landbou het ek baie gesê dat Suid-Afrika meer swart kommersiële boere nodig het. Maar dit is belangrik om vorentoe te kyk en mense nie met ideologiese kettings aan die verlede vas te bind nie,” sê dr. Mulder.
Wat die invloed van misdaad en plaasaanvalle op landbou aanbetref, het Mulder gesê dat net 37 000 boere 95% van Suid-Afrika se kos produseer. Indien argumentsonthalwe beraam word dat 10 miljoen mense hul eie kos produseer, beteken dit rofweg dat een boer kos vir 1 100 mense produseer.
“As een boer vermoor word, soos eergister in Leeudoringstad, kan daarom gesê word dat 1 100 mense sonder kos gaan wees. Kom ons waardeer daarom ons kommersiële boere en hulle bydrae tot voedselsekerheid, en verbeter die situasie selfs verder deur meer swart boere te kry om te help om die land se kosmandjie vol te hou,” sê Mulder.