
Na verwagting gaan me. Edna Molewa, Minister van Omgewingsake en Waterwese, nie voor die 13de Internasionale Klimaatsveranderingskongres (COP 13) aan die einde van die jaar voorstel dat die handel in renosterhoring wettig gemaak word nie. Mnr. Pelham Jones, voorsitter van die Privaat Renostereienaars-vereniging (PROA), sê die volgende kans om so ’n voorstel deur die internasionale gemeenskap te laat goedkeur, sal eers in 2016 by COP 16 wees.
“Intussen kan die land nog 2 000 renosters verloor as die statistieke van die afgelope paar jaar in ag geneem word,” sê Jones. Sedert renosterstroping in 2007 begin toeneem het, het die land reeds 1 550 renosters verloor.
Toename in stropery
Volgens die Departement van Omgewingsake se jongste statistieke is 430 renosters reeds vanjaar deur stropers afgemaai. Jones sê ’n afname in voorvalle is vir sowat ’n maand ondervind, maar dit wil voorkom of die aantal voorvalle na dié afname skerp toegeneem het.
Van die onlangse inhegtenisnemings kon tot ’n afname gelei het, maar Jones verwag dat vanjaar se statistieke die dodetal van verlede jaar, 448 renosters, gaan verbysteek. “Ons het aan die einde van verlede jaar ’n skerp toename ondervind, en ons het geen rede om te verwag dat dit vanjaar enigins anders gaan wees nie.”
Altesaam 205 stropers is reeds vanjaar aangekeer.