
Die plaaslike sitrusbedryf het op ‘n spesiale vergadering van die Sitrusprodusentevereniging (CGA) besluit om aan te beveel dat die uitvoer van sitrusvrugte (met die uitsondering van mandaryne) na die Europese Unie opgeskort word.
Mnr. Deon Joubert, die CGA se spesiale gesant by die EU, sê in ‘n nuusverklaring dat die EU vroeër gesê hy sal bykomende stappe teen Suid-Afrika doen indien vyf onderskeppings van besendings sitrus oor swartvlek gemaak word. Die EU doen dié onderskeppings wanneer swartvlek in besendings bespeur word. Joubert sê die EU het reeds vier besendings sitrusvrugte uit SA onderskep.
Die CGA meen dat swartvlek nie 'n bedreiging vir die EU inhou nie. Die besluit om handel op te skort voordat dié drempel bereik is, is in die belang van die handhawing van voortgesette handel met die EU oor die medium tot lang termyn.
Die CGA beveel aan dat sitrusboere wat in die gebiede waarin swartlek voorkom, op 8 September ophou om vrugte vir die EU te verpak. Die aanbeveling is dat slegs vrugte wat tot op dié dag verpak is, nog na die EU versend word.
Die kwekersvereniging het die Departement van Landbou versoek om met die EU in gesprek te tree oor die teenwoordigheid van lewende en lewensvatbare swamme van swartvlek op inspeksiepunte. Indien geen sodanige getuienis ontvang word, kan die status van die onderskeppings betwis word.
Joubert sê die plaaslike sitrusbedryf het baie moeite gedoen, teen enorme koste, om die EU-vereistes na te kom. “ Die onderliggende probleem met swartvlek by sitrus is dat, ten spyte van die aansienlike pogings wat deur die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf as 'n geheel gedoen het, geen ooreenkoms sedert 1992 met die EU bereik is nie.”
Die CGA sê hy bly verbind om saam te werk met die EU-owerhede om 'n langtermyn-oplossing te vind wat die voortbestaan ??van hierdie belangrike uitvoermark vir die SA sitrusbedryf sal verseker.