
Suid-Afrika het ’n nuwe ekonomiese stelsel nodig – ’n pasmaak-stelsel vir die land se eiesoortige behoeftes en sy mense, sê Agri SA se voorsitter, mnr. Johannes Möller. Hy het by Mpumalanga Landbou se onlangse jaarkongres naby Middelburg gewaarsku dat Suid-Afrika hom in ’n sosio-ekonomiese storm kan bevind as voedselsekerheid, eiendomsreg en beleggersvertroue gelyktydig in die slag bly.
Möller sê hoewel hierdie drie elemente by tye in gedrang kom, was Suid-Afrika tot dusver gelukkig om nie al drie gelyktydig te beleef nie. “Ons werk as boere is om te sorg dat daar nie hongersnood in die land kom nie en ons moet nie toelaat dat enigiets ons van stryk bring in hierdie taak nie.”
Möller het Suid-Afrika se landbousektor en boere gelukgewens met sy groei ondanks die tegniese resessie waarin die land hom bevind en gesê met sy lang waardeketting weer die sektor ’n “perfekte storm” af. Hy sê dit is belangrik dat die sektor aanhou groei want daar verhuis elke jaar omtrent 600 000 mense van Suid-Afrika se platteland na sy stede. “Daardie mense se kos kom van winkelrakke af en ons moet dit produseer.”
Hy sê om by te hou by die groeiende vraag na voedsel, gaan die landbou al hoe meer op nuwe tegnologie moet staatmaak. Boere gaan die balans moet vind tussen tegnologie en arbeid. Hy wys na Japan wat reeds outonome aarbeiboerderye het. “ ’n Boerdery sonder enige werkers is nie noodwendig die oplossing vir Suid-Afrika nie.”
Nuwe Kodesa nodig
Dit is hoekom Möller saam met prof. Sampie Terblanche stem dat Suid-Afrika sy eie ekonomiese stelsel nodig het, want hoewel kapitalisme dalk suksesvol mag wees, is daar te veel mense wat voel dat hulle agterweë gelaat sal word en sosialisme het oral in die wêreld gefaal om vooruitgang te bewerkstellig.
“Ons moet ’n sosiaal-ekonomiese stelsel ontwikkel waar die mark die leiding gee, maar waarbinne ons vir elke persoon in die land verandwoordelikheid neem. Ons het ’n nuwe Kodesa nodig om so ’n stelsel te formuleer en hoe gouer hoe beter," sê Möller.
Hy voeg by dat die landbou ’n groot rol in so ’n stelsel kan speel omdat dié sektor reeds verantwoordelikheid neem vir elke inwoner se voedselbehoeftes. Hy meen die bedryf kan egter meer groei en bydra as politieke ideologieë uit die weg geruim word en mense wat ’n liefde vir boerdery en Suid-Afrika het toegelaat word om nog boere op te lei en die sektor te ontwikkel.