
Suid-Afrika is vir die tweede agtereenvolgende jaar aangewys as die wêreld se grootste makadamianeutprodusent, sê mnr. Alan Sutton, voorsitter van die Valley Macadamia Group van Hazyview in Mpumalanga.
Sutton, wat die internasionale neut- en droëvrugtekongres (INC) in Melbourne, Australië, bygewoon het, sê toe Suid-Afrika se makadamianeut-produksiesyfers verlede jaar dié van Australië geklop het en die land as die wêreld se grootste makadamianeutprodusent bekroon is, was dit nie blote toeval of geluk nie, want dié prestasie is die aflope jaar herhaal.
Suid-Afrika se produksie het die afgelope seisoen met 20% gestyg teenoor dié van die vorige seisoen en die land het 48 000 t van die huidige wêreldproduksie van bykans 160 000 t voorsien.
Volgens die Australiese makadamiabedryf is sy jongste geskatte produksiesyfer van 40 000 t die gevolg van swak weerstoestande die afgelope paar jare. Intussen het Hawaii sy makadamianeut-voorsiening aan die wêreldmark gestaak omdat talle boorde weens ontwikkeling in die slag gebly het asook omdat daar sekere tegniese probleme met die oes opgeduik het.
Dit skep 'n situasie waar ruim 20 000 t makadamianeute uit die wêreldmark ‘verwyder ’ is. “Dit sal ‘'n invloed hê op die huidige onbuigbaarheid van die wêreldpryse van neutboomgewasse en is waarskynlik goeie nuus die Suid-Arikaanse makadamianeutbedryf,” sê Sutton.
Die plaaslike oes bereik nou 'n fase van eksponensiële groei namate die boorde volwassenheid bereik en gevolglik groter opbrengste lewer. “Dit behoort die plaaslike bedryf in 'n goeie posisie te plaas om aan die groeiende vraag na makadamianeute uit Asië te voldoen. Volgens navorsing sal 53% van die wêreld se bevolking hulle binne die volgende vyf jaar in die Asiese sirkel bevind en dít is dus waar die fokus op verbruikers behoort te wees,” het Sutton gesê.