Suid-Afrika se kragtariewe is by ’n keerpunt wat bekostigbaarheid betref, waarsku die Energy Intensive User Group (EIUG).
Luidens ’n berig in Engineering News (30 Augustus 2011) volg dié stelling ná die land se kragtariewe sedert 2008 byna verdubbel het.
Mnr. Mike Rossouw, die voorsitter van die groep, sê gekoördineerde regulatoriese, beleids- en beleggingspogings moet voortaan prysaanpassings nagaan om verdere verliese in Suid-Afrika se ekonomie te voorkom.
Dié voorstel kom ná verskeie myne en smelters hul ondernemings moes verklein in ’n poging om elektrisiteit te kan bekostig. Dié verkleining het weer tot werksverliese gelei.
Rossouw sê die stygende koste het benadeel beleggingsgeleenthede.
110c per kWh
Volgens Rossouw kan kragtariewe teen 2020 op 110c per kilowatt uur (kWh) staan as die huidige stand van sake soos voortduur. Koste staan tans op sowat 50c per kWh.
Mnr. Dawie Maree, ’n senior ekonoom van Agri SA, sê dié stygings benadeel ook die landboubedryf. Dié sektor, wat sowat 3% van die land se krag verbruik, het verlede jaar R1,3 miljard aan krag bestee. Die jongste tariefaanpassings het dié bedrag tot R1,67 miljard per jaar verhoog.
Maree sê hoewel die sektor een van die land se kleiner verbuikers is, beloop elektrisiteitskoste in sommige bedrywe tot 25% van produksiekoste.
Voedselsekerheid
Die organisasie sê: “Verhogings van dieselfde aard as die laaste paar jaar kan groot nadelige gevolge vir die landbou inhou, veral met betrekking tot verliese aan werksgeleenthede.
"Dit beteken dat die Regering se doelwitte soos in die nuwe groeiplan uiteengesit - nie behaal sal kan word nie. Nasionale voedelsekerheid is natuurlik ook in die gedrang,” verduidelik Maree.
Rossouw meen dat verdere tariefverhogings van sowat 25% per jaar ook ’n nadelige effek op verskeie ander bedrywe se werksgeleenthede sal hê.
’n Balans
Hy sê ’n balans tussen tariewe en ’n bekostigbare prys moet bereik word. Volgens die groep sal 80c per kWh so ’n balans kan bewerkstellig.
Eskom, wat tans in die proses is om om nog tariefaanpassings vir die komende jare aansoek te doen, se berekeninge lyk egter ietwat anders. Die kragvoorsiener het vroeër aangedui dat sy aansoeke vir nog twee jaar sowat 25% per jaar kan beloop.
Bron: Engineering News
30 Augustus 2011