
Mnr. JP Landman, ’n onafhanklike ontleder, het op die kongres van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) op Parys gesê die vooruitgang in Suid-Afrika se landbousektor was ten spyte van die droogte en vele beperkende uitdagings.
“Die feit dat daar tans 40% meer in die land geproduseer word as 20 jaar gelede, is verstommend. Die droogte het die produksie negatief geraak, maar daar was in elk geval ’n netto-toename in produksie ten spyte van ’n afname in die getal boere,” se hy. “Dit is ’n aanduiding van hoeveel die groep boere se produktiwiteit moes toeneem.”
Nog ’n bewys van die vooruitgang is die groter indiensneming deur die landboubedryf wat tans ervaar word, meen Landman. “Dit sê vir my dat die landbou sy produksie in so ’n mate uitbrei dat, ten spyte van meganisasie en ander beperkende faktore, meer en meer arbeid nodig is.”
Wat hom betref, sal die landbou se herstel vinnig volg sodra voldoende neerslae voorkom en die droogte finaal gebreek word.
In sy voordrag, het mnr. Chris Sturgess, die direkteur van kommoditeite van die JSE, die kongresgangers ingelig oor die moontlikhede in ’n deursigtige mark waarvolgens deelnemers in die termynkontrakte vir beesvleiskarkasse hulself kan verskans.
Die JSE is tans slegs sewe maande besig met die aanbied van termynkontakte vir beesvleis en produsente het al belangstelling begin toon. “Ons maak stadige vordering, maar ons voel produsente moet die projek ’n kans gee,” sê hy.