Die Suid-Afrikaanse landbou kan baat vind by die nuutgestigte wêreldorganisasie vir boere (WFO) omdat dit saam met boere van regoor die wêreld toegang kry tot multilaterale organisasies waar verreikende besluite geneem word.
Mnr. Hans van der Merwe, hoofbestuurder van Agri SA, het ná die stigtingskonferensie by Spier, buite Stellenbosch, gesê die organisasie het reeds bewys dat dit “oop deure” na organisasies soos die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO), die Wêreldbank en die Wêreldhandelsorganisasie het.
“Ons het ook baie van mekaar te leer oor die hantering van spesifieke vraagstukke, soos rampbestuur, maar uiteindelik sal die waarde van die organisasie gemeet word aan die mate waarin dit boere se winsgewendheid kan verbeter.”
Debat aanmoedig
Die organisasie sal die landbou “oop” maak en die debat verruim, en dit kan meebring dat Suid-Afrikaanse politici besef dat die probleme waarmee Suid-Afrikaanse boere sukkel, ook deur boere in ander lande wêreldwyd ervaar word.
Van der Merwe het gesê uiteindelik gaan die waarde wat die Suid-Afrikaanse landbou uit lidmaatskap by die organisasie kry, afhang van die energie waarmee hulle daaraan deelneem.
Hy sê die stigtingskonferensie is in Suid-Afrika gehou omdat die land uniek geplaas is tussen die ontwikkelde en ontwikkelende wêreld. Dit help volgens hom om die ontwikkelende dimensie aan boord te kry, maar met goeie begrip vir die uitdagings waarmee kommersiële boere te doen kry.
15 September 2011