Dié versekering kom van prof Ferdi Meyer, besturende direkteur van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP), wat met die bekendstelling van die BFAP-vooruitskouing vir 2022 tot 2031 gepraat het. In ’n aanbieding oor die implikasies wat die vooruitskouing op beleids- en beleggingsbesluite gaan hê, het hy gewaarsku dat net beperkte groei in die volgende nege jaar verwag word tensy daar ’n doelbewuste poging is om die kurwe opwaarts te buig.
Suid-Afrika se landbou kan in hierdie tydperk met tot 15% meer as die verwagtinge groei as die meesterplan daadwerlik uitgevoer word. Dit kan die bruto produksiewaarde van landbou ’n verdere hupstoot van meer as R20 miljard gee en swart boere se aandeel drasties laat styg.
Meyer het gesê die geleenthede vir groei kan teruggevoer word na die nasionale ontwikkelingplan waarin drie pilare vir versnelde groei uitgesonder is. Dit was die klem op bedrywe met die vermoë om vinnig te kan groei, landbouverwerkingsgeleenthede en klem op nuwe boere wat onproduktiewe plase en kleinskaalse boerderye kan ontwikkel. Die meesterplan het hierop voortgebou en die sleutelkwessie is doeltreffende toepassing.