
Tot nou kon Brasilië land slegs varkvleis wat verder verwerk sou word – gewoonlik tot wors, na Suid-Afrika uitvoer, aldus die Brasiliaanse ambassade in Pretoria. Sedert 11 Januarie is die Suid-Afrikaanse mark, ná ’n paar jaar se onderhandelinge, egter oopgestel.
Varkprodukte uit Brasilië is nou op die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se onbeperkte lys.
Pryse
Mnr. Jacobus Hoffman, projekbestuurder van die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie (Savpo), sê die organisasie besef terdeë Suid-Afrika leef nie in isolasie nie.
“In die algemeen het varkvleisinvoer, of dit nou van Brasilië of enige ander plek kom, ’n regstreekse invloed op ons bedryf, veral gegewe die erge droogte wat ons die afgelope 24 maande beleef het en die uiters hoë voerpryse. As Brasiliaanse varkvleis teen laer pryse aangebied word, sal dit ’n regsreekse invloed op pryse in Suid-Afrika hê en sal produsente onder selfs nog meer druk geplaas word.”
Hoffman sê Suid-Afrikaanse varkvleisprodusente is uiters doeltreffend en kan wat vleisgewig en -produksie betref met die bestes ter wêreld meeding. “Ons voer- en produksiekoste is egter baie hoog. Produksiekoste alleen het maklik tot R25/kg gestyg. Die minimum prys wat ’n produsent nou op slagplaasvlak moet kry, is R28/kg,” sê Hoffmann.
Volgens hom het Brasilië sy varkvleis nog altyd teen baie mededingende pryse uitgevoer, danksy sy voordeel van betreklik goedkoop voer (mielies en sojabone). Brasiliaanse varkvleis sal in Suid-Afrika aan dieselfde invoertarief as ander lande s’n onderhewig wees, naamlik 15%, afgesien van varkribbetjies wat teen ’n nulkoers inkom.
Hoeveelheid
Van Suid-Afrika se totale varkvleisinvoer verlede jaar het 6% uit Brasilië gekom. Hoffmann sê die hoeveelheid wat Brasilië voortaan na Suid-Afrika gaan uitvoer, sal afhang van sy aanbodooreenkomste met Rusland en China. Hy verwag ingevoerde Brasiliaanse varkvleis kan bykomend tot die huidige vlak van invoer wees én invoer uit ander lande vervang.
Die Brasiliaanse ambassade sê sy land se produsente se varkvleis is internasionaal daarvoor bekend dat dit maer, dog baie geurig is. Die hele Brasiliaanse varkvleisproduksieketting volg streng protokols rakende die gebruik van hoë tegnologie, die respektering van dierewelsyn en die nakoming van alle internasionale standaarde.
Brasilië is volgens die ambassade die vierde grootste uitvoerder van varkvleis ter wêreld en het in 2015 na 62 lande uitgevoer. Sy grootste uitvoerbestemmings is Rusland, China, Japan en lande in Suid-Amerika.