
Suid-Afrikaanse boere se koste van $35/100kg geproduseer, is soortgelyk aan Australië s’n en laer as Nieu-Seeland se $37/100kg, sê dr. Koos Coetzee, hoofekonoom van die Melkprodusente-organisasie (MPO).
Die land met die laagste produksiekoste is Kameroen met $5, terwyl Switserland met $109 die hoogste koste het, gevolg deur Japan en Finland, luidens die Internasionale Plaasvergelykingsnetwerk (IFCN). In lande met lae koste, soos Kameroen, Uganda en Peru, is die kuddes volgens Coetzee baie klein en word melk nie aan die mark verskaf nie.
Coetzee sê die berekenings vir die IFCN se 2014-suiwelverslag is op 2013-inligting gegrond en produksiekoste word uitgedruk in Amerikaanse dollar per 100 kg energiegekontroleerde melk.
Hy sê die IFCN bereken beide totale regstreekse koste en geleentheidskoste. Eersgenoemde sluit die koste van alle aangekoopte en selfgeproduseerde items in, terwyl geleentheidskoste die eienaar se eie arbeid en die geleentheidskoste van die grond insluit, wat die prys is waarvoor dit verhuur sou kon word.
Coetzee sê vir Suid-Afrikaanse boere is produksiekoste belangrik, maar dit is belangriker om doeltreffend en winsgewend te produseer. “Vir verskillende boere beteken dit verskillende strategieë. Vir die intensiewe boer beteken dit gewoonlik maksimum produksie per koei vir die weidingsboere maksimum produksie per hektaar. Die doelwit is nie die laagste koste nie, maar die maksimum wins.
“Meer as 90% van ons mark is binnelands, waar die prys waarteen ons moet meeding die invoerprys plus koste is. Solank ons volhoubaar onder invoerpariteit kan produseer, is ons ‘veilig’.”
Coetzee sê Nieu-Seelandse melkboere se koste gaan na verwagting bly styg, onder meer omdat Fonterra, die Nieu-Seelandse suiwelkoöperasie, boere aanmoedig om minder seisoenaal te produseer en dit hulle dwing om meer grane te gebruik. Boere daar moet ook al meer omgewingsvereistes nakom. “Hulle moet al meer bestee aan die afloop van water en die uitloog van chemikalië.”
Volgens die IFCN-verslag is die wêreldwye gemiddelde kuddegrootte 2,4 koeie. In Nieu-Seeland is die gemiddelde kuddegrootte 393, in Suid-Afrika 340, in Amerika 160 en in Argentinië 150. – CARIEN KRUGER