
Suid-Afrikaanse mielieboere het gewys wat is moontlik as doeltreffend geproduseer word, sê mnr. Fanie Brink, ’n landbou-ekonoom.
Volgens die finale oesskatting teen die einde van September was die mielie-oes vir die 2013/14-seisoen 14,3 miljoen ton. Dit is geproduseer op 2,6 miljoen hektaar teen ’n gemiddeld van 5,5 ton/ha – die hoogste nog in die geskiedenis.
Hierdie oes is bykans net so groot soos die geskiedkundige grootste oes in Suid-Afrika van 14,4 miljoen ton in die 1981/’82-produksieseisoen. Daardie oes was egter op 4,3 miljoen hektaar produseer teen ‘n gemiddelde opbrengs van 3,4 ton/ha, sê Brink.
Die gemiddelde langtermyn-opbrengs van mielies het sedert die tagtigerjare teenoor die laaste aantal jare van 2 ton/ha tot meer as 4 ton/ha gestyg. Vanjaar se uitnemende verhoging kan aan verskeie redes toegeskryf word.
Brink sê eerstens was produsente betyds geseën met baie goeie reën in Januarie en Februarie vanjaar toe dit geblyk het asof die mielies dit nie gaan maak nie. Sonder dié reën was die rekordopbrengs nie moontlik nie. Dit verskaf egter nou juis die geleentheid om ‘n baie goeie maatstaf te kry van hoe die doeltreffendheid in produksie oor tyd verbeter het omdat dit aanvaar kan word dat beide baie goeie reënvalseisoene was.
Tweedens moet erkenning gegee word aan die produsente-organisasie, Nampo/Graan SA, wat oor baie jare met nuwe visie en aanpassing, as spreekbuis van die bedryf, deurgaans die saak van mielieprodusente duidelik, realisties en onverskrokke bevorder het. Veral wat die verskaffing van insette, bemarking, navorsing, voorligting en die algemene beïnvloeding van ekonomiese- en finansiële regeringsbeleid, het Graan SA boere bygestaan, aldus Brink.