
Die landbou is ’n uiters belangrike sektor wat van deurslaggewende belang vir ekonomiese groei is. Daarom moet gewaak word teen struikelblokke wat groei binne die sektor kan beperk, sê mnr. Senzeni Zokawana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Hy het by Agri SA se jaarkongres buite Pretoria gesê die landbou dra net 2,7% tot die ekonomie by en die strewe is om hierdie aandeel te verhoog. “Om dit reg te kry, moet belegging in die sektor verhoog word. Meer markte vir Suid-Afrikaanse landbou-produkte gevind word, produsente moet ondersteun word en ’n omgewing moet geskep word waarbinne landbou kan gedy.”
Oor plaasaanvalle het hy gesê elke plaasmoord is een te veel. “Geweld teenoor boere is geweld teenoor die hele landbousektor. Ek is gekant teen geweld en ek dink die hele sektor is gekant teen geweld. En dit gaan nie net oor geweld teenoor boere en plaaswerkers nie, maar ook oor veediesfstal, dieremishandeling en alles wat die boerderygemeenskap se lewensomstandighede ondraaglik maak.”
Zokwana sê sonder ’n gesonde en gelukkige werksmag, kan die sektor nie suksevol wees nie. Daar moet in die mense-hulpbron belê word. “Ons wil graag ’n sektor sien waar daar geen ongeregtigheid teenoor kwesbares is nie.