Verteenwoordigers van verskeie rolspelers van die Namibiese en Suid-Afrikaanse vleisbedrywe het die afgelope week probleme rakende die invoer van vleis bespreek.
Luidens ‘n verklaring het die Lewende hawe-produsente-organisasie van Namibië, die Namibiese Landbou-unie, die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) van Suid-Afrika, die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsforum en Agri Inspec Maandag (20 September) byeengekom.
“Die beweerde smokkel van skaap en skaapvleis is nie bespreek nie aangesien dr. Hennie Kleynhans van Agri Inspec, wat die spesialis op dié gebied is, nie teenwoordig was nie,” lui die verklaring.
Kleynhans het verlede week tydens die RPO se nasionale jaarvergadering aangekondig dat die vergadering gaan plaasvind.
Behoorlike grensbeheer nodig
Al die partye betrokke het saamgestem dat behoorlike grensbeheer vir gesonde handel in vleis- en vleisprodukte tussen die twee lande nodig is. Die plaaslike rooivleisbedryf erken dat lewende hawe van Namibië ‘n integrale deel van voorsiening in Suid-Afrika speel, maar dat ongerymdhede die plaaslike mark verwring.
Die rolspelers meen almal dat instansies wat hulle aan ongerymdhede skuldig maak vervolg moet word. Daar is egter konsensus dat dié ongerymdhede op ‘n beperkte skaal voorkom.
Die grootste probleme word ervaar rondom onderverklaring van waarde en getalle van lewende hawe, wat ‘n uitwerking op grensbelasting het.
Voorstelle vir die toekoms
Die vergadering het die volgende voorstelle gemaak vir toekomstige samewerking en die oplos van probleme:
Behoorlike definisie van klasse van lewende hawe.
‘n Eenvoudiger en meer doeltreffende invoerproses.
Stel standaard waardes vir verskillende klasse van lewende hawe saam en pas dit gereeld aan.
Die stelsels sal met die Vleisbedryfsforum, SARS en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye bespreek word vir moontlike toepassing.
Die rolspelers het ook onderneem om op ‘n gereelde basis te vergader.
23 September 2010