
Suid-Afrika is op die verkeerde grondwetlike- en ekonomiese pad en bevorder ook nie nie-rassigheid en nasionale eenheid nie, het oud-president FW de Klerk gesê.
De Klerk het gepraat by die konferensie ter viering van die 27ste herdenking sedert sy toespraak wat die weg gebaan het vir die land om 'n grondwetlike transformasie te ondergaan.
Hy het uitgelig dat die verkeerde ekonomiese pad waarop die land is, gesien kan word met die groeiende wetgewende bedreiging van eiendomsregte, rasbeperkende beleide, die intrekking van beleggingsooreenkomste met lande van die Europese Unie en die volgehoue druk wat op Minister van Finansies, mnr. Pravin Gordhan, geplaas word.
Staatskaping
Volgens hom het staatskaping die grondwetlike onafhanklikheid van sleutel-instellings totaal geskend.
Die land is op 'n verkeerde pad in terme van nasionale eenheid en nie-rassigheid. "Ons het diep verwikkel geraak in wat die Nasionale Beplanningkommissie na verwys as die politiek van etnisiteit en faksionalisme."
De Klerk het gesê die Regering het 'n vyandige houding teenoor wit Suid-Afrikaners aangeneem wat gebaseer is op negatiewe ras-stereotipes wat hyself (die Regering) bevorder en glo.
Skaad van kulturele belange
Dit skep 'n negatiewe rasseklimaat om beleide te implementeer wat gemik is om die ekonomiese en kulturele belange van wit landsburgers te skaad. "Dit is wat die radikale implementering van die tweede fase van die Nasionale Demokratiese Rewolusie oor gaan."
Die einddoel van die rewolusie is om 'n nasionale demokratiese samelewing te skep wat gekarakteriseer word deur demografiese verteenwoordiging. Dit beteken dat die ekonomiese en kulturele ruimtes van minderhede proporsioneel beperk gaan word volgens demografie. Dit gaan daartoe lei dat die wit minderheid in die land binne 50 tot 60 jaar feitlik uitgewis kan word.
De Klerk het uitgelig dat die mense van die land op die ou end die besluit sal moet neem watter pad voorentoe gevolg gaan word.