
Heelwat water moet nog in die see loop voor Suid-Afrika bevrore rooivleis na China sal kan uitvoer. ’n Memorandum van verstandhouding in dié verband is tydens die bekendstelling van Operasie Phakisa onderteken.
Kragtens die memorandum sal Suid-Afrika en China saamwerk om kennis rakende die inwerkingstelling van die Wêreldhandelsorganisasie se sanitêre en fitosanitêre ooreenkoms uit te ruil. Die twee lande sal ook saamwerk in die voorkoming en bekamping van dieresiektes.
Dr. Pieter Prinsloo, ondervoorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie, meen egter dat daar nog heelwat veranderinge in die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf sal moet plaasvind voor uitvoer na China aan die memorandum se vereistes kan voldoen.
Naspeurbaar
“Daar is heelwat tegniese punte waarop China aandring wat nog nie plaaslik ingestel is nie. China vereis byvoorbeeld ’n naspeurbaarheidswaarborg wat die hele waardeketting van die plaas tot by die verbruiker dek. Die huidige naspeurbaarheidsketting in Suid-Afrika strek egter net vanaf die voerkraalhek. Daar is nog nie ’n stelsel om rooivleis tot op plaasvlak na te speur nie,” sê Prinsloo Nog ’n kwessie is biosekerheid.
“China vra ’n kompartementalisering van die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf om veral diere wat in gebiede met knopvelsiekte gelewer is, vir uitvoer af te keur, asook vir ’n omvangryke biosekerheidsplan wat gesondheidsertifikate en die gereelde inspeksie van rooivleis insluit. Hoewel Suid-Afrika se biosekerheid taamlik goed is, is daar heelwat faktore wat in die memorandum genoem word wat nog nie ingestel is nie.”
Prinsloo meen dat dit tot drie jaar kan duur voor Suid-Afrika die nodige protokol gereed sal hê om uitvoer na China moontlik te maak. “Uitvoer is dus nie onmoontlik nie en ons wil graag uitvoer na China aanmoedig, aangesien dit ’n groot voordeel vir plaaslike rooivleisprodusente sal bewerkstellig. Daar sal egter eers aan die protokolle aandag geskenk moet word om te verseker dat die bedryf gereed is om die mark te betree.”